God se antwoord op bekommernis
2021-09-232 Timoteus 1:7 AFR53
Die Bybel sê: ‘Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing…’ Om vrees te oorkom, moet ons eerstens verstaan dat vrees ‘n ‘gees’ is en dat dit nie van God af kom nie. Elke keer wat jy dit besef, sal jy minder geneig wees om daartoe in te gee. Wat het God vir ons in die plek van vrees gegee? Drie dinge:
1) Krag. Ons praat nie hier van self-help tegnieke en stresbestuur nie. Dit gaan dieper as blote angsvermindering om jou lewe meer aangenaam te maak. Dis ‘n vaste oortuiging wat na die kern van jou wese gaan, dat alle dinge waaroor jy jou bekommer in die hande van ‘n liefdevolle God is wat net die beste vir jou in gedagte het. Daarom sal alles goed gaan en kan jy sonder bekommernis lewe.
2) Liefde. Die Bybel sê: ‘volwasse liefde dryf die vrees uit…’ (1 Johannes 4:18 NLV). Eers wanneer jy besef dat God, wat nooit van opinie oor jou verander nie, jou onvoorwaardelik liefhet, sal jy leer om jouself lief te hê en te aanvaar en dan in staat wees om ander mense lief te hê en te aanvaar. Kan jy jou die effek indink wat dit op jou vrees vir mense, vrees vir verwerping en vrees vir kritiek sal hê? Hierdie tipe liefde is meer as ‘n ‘goed voel’ emosie; dis ‘n lewensveranderende krag.
3) ‘n Gesonde verstand. Paulus skryf: ‘Elke hooghartige leuen wat die ware kennis van God probeer verdraai, loop ons met God se wapens onderstebo. En elke gedagte wat deur ons kop gaan, neem ons gevange en lewer dit aan Christus uit. Ons dink slegs wat Hy wil hê’ (2 Korintiërs 10:5 DB).
Hierdie drie dinge is God se antwoord op bekommernis.
Sielskos: Hoogl 5-8; Luk 22:63-71; Ps 39; Spr 21:9-13