God sal jou verlos

2024-08-08
Psalm 18:7 NLV

Het jy ‘n reeks nederlae en terugslae gehad? Is jy moedeloos omdat die aanvalle lank en vermoeiend was? Lees dan hierdie woorde van die Psalmdigter Dawid en staan daarop: ‘Ek het U baie lief Here; U is my sterkte… In my angs het ek tot die Here geroep, tot my God geroep om hulp. In sy heiligdom het Hy geluister; my hulpgeroep het Hy gehoor… Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, uit die diepwaters het Hy my getrek… Hulle het aangeval toe ek swak was, maar die Here hou my staande. Hy lei my na veiligheid en red my omdat Hy my liefhet. Die Here beloon my opregtheid… God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Want wie anders as die Here is God? Wie anders as God is ‘n rots? God rus my toe met krag. Hy maak my pad veilig’ (verse 2, 7,17, 19-21, 31-33 NLV).

Jy het dit al vantevore gehoor en jy weet wat om te doen – bestee meer tyd in gebed met God en lees sy Woord! In plaas daarvan om jou eie krag te probeer gebruik, skakel by God in en laat sy krag deur jou vloei. Kyk wie op die troon van jou lewe is. As dit enigiemand anders as God is, insluitend jouself, is dit ‘n afgod wat onttroon moet word. Hoe lank sal hierdie stryd neem? God weet en Hy sal sorg dat hierdie aanval nie groter as die genade wat Hy voorsien, is nie. Hy sê vandag vir jou: ‘…My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV).

Sielskos: 1 Kro 4:24-5:26; Luk 11:45-54; Ps 119:1-8; Spr 20:15-18