God sal jou vergewe
2019-05-22Psalm 130:4 DB
Die Psalmdigter het geskryf: ‘Ek is in groot moeilikheid. Help my asseblief, Here. Moet asseblief nie my probleem miskyk nie. Wys dat U my hulpgeroep hoor. As U die hele tyd mense oor hulle sondes moes verwyt, sou niemand meer kon lewe nie. Gelukkig vergewe U ons sondes. Daarom kyk mense op na U en dien hulle U’ (vers 1-4 DB). God se vergifnis is egter nutteloos, totdat jy dit deur geloof ontvang – en dan jouself vergewe! Jy sê: ‘Maar wat van my verlede?’ Die oomblik wat jy God se vergifnis ontvang, het jy nie meer ‘n verlede nie – jy het net ‘n toekoms. Jy moet egter drie dinge doen: 1) Besef dat almal misluk. Simson het misluk omdat hy te naby aan die verkeerde vrou gekom het (sien Rigters 16). Jona het misluk deur te probeer om van sy roeping af weg te hardloop (sien Jona 1:3). Petrus het misluk toe hy Jesus verloën het (sien Matteus 26:34). Tog het God hulle vergewe en elkeen tot sy verheerliking gebruik. 2) Jy moet jou emosies prosesseer. Spyt: ‘As ek dit maar net nie gedoen het nie.’ Frustrasie: ‘Ek het my beste gedoen. Hoekom was dit nie goed genoeg nie?’ Selfbejammering: ‘Niemand is lief vir my nie so ek gaan net hier sit en my wonde lek.’ Verlamming: ‘Ek het dit te dikwels gedoen. My fout is te groot. Ek sal nooit daaarby verby kom nie.’ Jou emosies jok vir jou – moenie hulle glo nie! 3) Wanneer jy val, staan weer op. ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan…’ (Spreuke 24:16 NLV). Let op – regverdige mense val ook! Is jy gereed om op te staan en weer te probeer? Dan sal God saam met jou werk.
Sielskos: 1 Kon 12-13; Mark 9:1-13; Ps 128; Spr 12:10-11