God sal jou vergewe en jou herstel

2024-05-25
Psalm 51:3 NLV

Daar is slegte nuus en daar is goeie nuus. Die slegte nuus is toe Dawid sy sonde probeer wegsteek het, het God dit aan die hele volk blootgelê. Die goeie nuus is dat toe Dawid sy sonde bely het, het God hom vergewe en sy rekord uitgevee. Wat God vir Dawid gedoen het, sal Hy ook vir jou doen. Al wat jy moet doen, is om op jou knieë te gaan en te bid: ‘…Wis tog my sonde uit… Skep vir my ‘n rein hart, o God…’ (verse 3, 12 NLV).

As jy wil weet hoe God op so ‘n gebed reageer, lees wat Hy vir Salomo, Dawid se seun, gesê het: “…Dien My met opregtheid en vroomheid soos jou pa, Dawid, gedoen het, doen alles wat Ek beveel het en voer my bevele en voorskrifte uit. Dan sal Ek jou koningskap oor Israel bevestig soos Ek aan jou pa, Dawid, belowe het: ‘Daar sal altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel wees'” (1 Konings 9:4-5 NLV).

Jy mag dalk vandag voel of jy as gevolg van jou sonde, hoop, verlossing en die geleentheid om bruikbaar vir God te wees, verbeur het. Moet dit nie glo nie! Jy kan herstel word. Jy kan genees word. Jy kan vergewe word. Jy kan jou integriteit terugkry. Jy kan weer heel word. Jy kan sing: ‘There is a fountain filled with blood, drawn from Immanuel’s veins, and sinners plunged beneath that flood, lose all their guilty stains.’

Die woord vir jou vandag is – God sal jou vergewe en herstel. Al wat jy moet doen is om Hom daarvoor te vra.

Sielskos: Rig 12-15; Mark 11:1-11; Ps 97; Spr 13:9-10