God sal ingryp

2024-08-15
2 Kronieke 20:12 NLV

Die helde in die Skrif het dikwels voor onmoontlike en oorweldigende situasies te staan gekom. Dink aan Moses wat opgestaan het teen farao en Dawid wat teen Goliat opgestaan het. Dink aan koning Josafat wat voor die oorweldigende mag van drie gekombineerde leërs, wat vasbeslote was om sy nasie te vernietig, te staan gekom het. Hy het vir God gesê: ‘…Ons is magteloos teen hierdie groot leër wat op die punt is om ons aan te val. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp’ (vers 12 NLKV).

Let op hoe God hom geantwoord het: ‘…Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n… Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here. Hy is met julle… Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die Here is met julle!’ (verse 15-17 NLV).

God sal jou nooit ‘n werk gee om te doen wat nie sy krag, sy wysheid, sy hulpbronne en soms sy wonderbaarlike ingryping verg nie. Wie het die dissipels beveel om in die boot te klim en na die ander kant van Galilea te vaar? Jesus. Wat het gebeur? Gehoorsaamheid aan Hom het beteken dat hulle deur een van die ergste storms van hulle lewens moes gaan. Soos hulle egter toegekyk het hoe Hy die storm stilmaak, het hulle geloof tot ‘n nuwe vlak beweeg en hulle voorberei om groter dinge vir God in die toekoms te doen.

Die woord vir jou vandag is dus: 1) posisioneer jouself, 2) staan stil en kyk na die oorwinning van die Here, en 3) ‘Moenie bang of moedeloos wees nie… want die Here is met julle!’

Sielskos: 1 Kro 19:1-23:20; Luk 13:1-17; Ps 119:49-56; Spr 21:4-6