God roep jou vandag (3)

2023-06-05
Lukas 22:32 NLV

God wil hê dat jy sy wil moet doen, maar jy sal nooit die plek van geestelike volwassenheid bereik waar jy vry van Satan is nie. Jy kan hom oorkom, maar jy kan hom nie elimineer nie. Kyk na Petrus. Hy was altyd in die middel van alles wat aangaan, maar hy was nie altyd op hoogte van alles nie. Die man wat uiteindelik die kerk sou lei, het eers ontken dat hy ‘n dissipel van Jesus is.

Dis nogal skokkend, nè? Niks van ons kan God egter verras nie. Hy het jou nie geroep en gesê: ‘Ek hoop jy is die regte persoon’ nie. Nee, Jesus het vir Petrus gesê: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie…’ (vers 31-32 NLV). Is dit nie ‘n wonderlike openbaring nie? Selfs wanneer jy nie weet hoe om vir jouself te bid nie, is Jesus besig om vir jou te bid. ‘…Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!’ (Hebreërs 7:25 NLV).

Jesus het vir Petrus gesê: ‘…As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (Lukas 22:32 NLV). Die gemors waarin jy jou vandag bevind, kan ‘n bediening vir ander mense word. Nie net kan God jou lewe omdraai nie, Hy kan jou gebruik om die lewens van ander mense ook om te draai. God sou jou nie gesif het as daar nie in die eerste plek iets in jou was wat die moeite werd was om te red nie. Sif is ‘n manier om iets te suiwer, om die puin uit te keer en dit wat oorbly te verfyn. God roep jou vandag. Moenie nog ‘n oomblik mors nie; gee jou lewe aan Hom oor.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 14:22-36; Ps 116; Spr 12:25