God kan jou verlede uitvee (3)
2023-11-06Johannes 19:30 NLV
Een van Christus se laaste verklarings op die kruis was: ‘…Dit is nou afgehandel!..’ Daardie frase bestaan uit net een woord in Grieks, tetelestai, wat ‘ten volle betaal’ beteken. Dit is die woord wat handelaars op ‘n rekening geskryf het as dit gekanselleer is. Jesus het die volle prys vir elke sonde wat jy nog ooit gepleeg het, betaal! ‘Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem’ (Romeine 8:1 NLV).
Die vraag is, as God jou sonde die oomblik wat jy dit bely vergeet, dink jy nie jy moet dit ook vergeet nie? Hoe lank dink jy aan ‘n faktuur nadat jy dit betaal het? Jy vergeet dit minute nadat jy dit betaal het. Soortgelyk, aangesien Christus jou rekening ten volle betaal het, hoef jy dit nie meer te onthou nie. Paulus, wat homself een keer as die ergste sondaar van almal (sien 1 Timoteus 1:15) beskryf het, het geskryf: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee…’ (Filippense 3:13-14 NLV).
Ons kan God se krag in ons lewens kortwiek deur nie te vertrou dat Hy ons werklik vergewe het of deur te besluit om onsself nie te vergewe nie. Hoekom doen ons dit? Soms gebeur dit oor die manier hoe ons grootgemaak is. Ons ouers het vir ons gesê: ‘Ek vergewe jou,’ maar aanhoudend weer melding daarvan gemaak. Jou hemelse Vader is egter anders as jou aardse ouers. Wanneer Hy jou sondes vergewe, wis Hy jou klagstaat uit, kanselleer jou verlede, vergeet dit, praat nie daaroor nie en sal dit nooit weer noem nie. Aanvaar dus vandag sy vergifnis. Indien nodig, vergewe ook jouself en beweeg aan.
Sielskos: Esra 6-8; Joh 7:33-44; Ps 86; Spr 25:8-12