God is vandag by jou

2021-03-24
Deuteronomium 33:27 NLV

Dink na oor hierdie tydlose woorde deur Margaret Fishback Powers: ‘Een nag het ek ‘n droom gehad. Ek het gedroom dat ek op die strand loop en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel. In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien: myne en die Here Jesus s’n. Toe die laaste toneel voor my afspeel, het ek teruggekyk na die voetspore in die sand en merk toe op dat daar soms net een ry spore was. Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewigste tye in my lewe! Dit het my gehinder en ek het gevra: ‘Here, toe ek begin het om U te volg, het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie. Hoekom was daar dan net een ry spore gedurende daardie moeilike tye in my lewe? Ek kan nie verstaan waarom U, in die tye wat ek dit die nodigste gehad het, my verlaat het nie.’ Die Here het geantwoord: ‘My liewe kind! Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie. Die tye wat jy net een ry spore gesien het, was die tye toe Ek jou gedra het.’

As jy nog versekering nodig het, lees hierdie twee Skrifgedeeltes: ‘…die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie’ (Deuteronomium 31:8 NLV). “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp, daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (HebreĆ«rs 13:5-6 NLV). Die woord vir jou vandag is – God is by jou.

Sielskos: Job 35-37; Matt 25:14-21; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23