God gee vooruitgang aan almal

2018-06-29
Spreuke 14:34 NLV

Die bekende ateïs Madalyn Murray O’Hair het eenmaal gesê, ‘Niks goeds het al ooit uit Christenskap gekom nie. As die Christendom dan niks goed gedoen het of iets goeds geproduseer het nie, moet ons dit verwerp.’ Selfs Christus het gesê, ‘Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ‘n mens ‘n boom aan sy vrugte uitken…’ (Matteus 7:16 NLV). Met elke woord wat Christus egter gepreek het, is lewens verander en is daar wonderbaarlike dinge vir die samelewing gedoen. Neem die wetenskap as voorbeeld. Soos een kundige uitgewys het, kon die wetenskap in geen ander kultuur sy oorsprong gehad het nie. Dit kon nie uit die Moslemse kultuur ontstaan het nie as gevolg van hulle fatalistiese geloof, wat enige konsep van wetenskaplike vooruitgang verhoed. Dit kon ook nie vanuit die Boeddhiste of die Hindoes ontstaan het nie, omdat hulle glo dat die fisiese wêreld nie bestaan nie, dat niks behalwe God bestaan nie en dat hierdie alles net verbeelding is. Net deur Christenskap kon die wetenskap tot stand gekom het! Dink ook aan organisasies en mense wat die krotbuurte binnegaan om die verlatenes te red. Christene gee hulself aan hierdie mense. Vandag, met die verwydering van die Skrif uit groot dele van ons kultuur, sien ons hoe verval en korrupsie aan die orde van die dag is. Wat is dus die antwoord? Jesus het gesê, ‘Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak…’ (Matteus 5:13 NLV). Kry dus jou soutpot uit en begin om die lewensveranderende waarheid van God se Woord te versprei! Jesus het ook gesê, ‘Julle is die lig wat die wêreld moet verlig…’ (vers 14 NLV). Daar is nie genoeg duisternis in die wêreld om die lig van een klein kersie uit te doof nie. Laat jou lig dus skyn.

Sielskos: 1 Sam 1-3; Luk 3:1-10; Ps 59:1-8; Spr 16:20-22