God en werk
2024-03-21Psalm 84:8 NLV
Die frase ‘ontdek jou sterkpunte’ is deur die navorser Marcus Buckingham in wat na verwys word as die ‘Strengths Movement,’ beroemd gemaak. Dit verg van ons om op te hou om op ons swakpunte te fokus en ons sterkpunte te ontwikkel – wat God se ontwerp reflekteer. God het nie gesê: ‘Moses, jou vakmanskapvaardighede is swak. Jy moet vir ‘n ruk ophou om die mense te lei en probeer om meer soos Besaleël te word’ nie (sien Eksodus 31:1-5). ‘n Sterkpunt is ‘n aktiwiteit wat jou sterk laat voel wanneer jy dit doen.
Sekere aktiwiteite sal jou opgewonde maak en jou uitdaag; ander sal jou verveel en jou dreineer. Sodra jy hierdie aktiwiteite ontdek, is jy nie bloot besig met ‘loopbaanbeplanning’ nie, jy erken God se handewerk en jou eie kernsterkpunte. Dis belangrik dat jy dit doen, want jou lewe is die klein deel van die skepping waaroor God jou aangestel het.
Dorothy Sayers het gesê: “‘n Mens werk nie om te lewe nie, maar lewe om te werk. Dit is, of dit behoort te wees, die volle uitdrukking van die werker se vermoëns, die aktiwiteit waarin hy geestelike en liggaamlike bevrediging vind en die medium waarin hy homself aan God bied.”
Wat as jou werk nie jou behoeftes vervul of jou Godgegewe gawes gebruik nie? Soms vereis noodsaaklikheid dit. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ (Prediker 9:10 NLV). Bid intussen vir nuwe geleenthede, berei jouself voor en doen vrywillige werk in ‘n gebied wat jou sterkpunte benut. Soms is mense wat nie hul werk geniet nie, ellendig en maak hulle almal rondom hulle ook ellendig. God verwag egter beter van jou!
Sielskos: 2 Kon 24-25; Matt 26:1-25; Ps 19; Spr 8:6-7