God en jou werk (2)
2023-12-291 Korintiërs 4:2 NLV
Die meeste volwassenes bestee omtrent die helfte van die dag by die werk. Jou werk is ‘n groot deel van God se plan vir jou lewe. Hy het ‘n spesifieke roeping net vir jou ontwerp waaruit jy persoonlike vervulling sal kry, in die behoeftes van jou familie kan voorsien en wat sal help om sy doelwitte op aarde te vervul.
Die vierde gebod sluit al sewe dae van die week, nie net die Sabbat nie, in. ‘Ses dae lank kan jy met jou daaglikse werk aangaan… Die Here het in ses dae die hemel, die aarde, die see en alles wat daarin is, gemaak…’ (Eksodus 20:9,11 NLV). Soms hoor jy ‘n preek wat jou laat skuldig voel omdat jy nie die Sabbat onderhou nie, maar het jy al ooit ‘n preek gehoor wat jou laat skuldig voel omdat jy nie die ses-dag werkweek onderhou nie?
Die punt is dat net soos God die Sabbat gemaak het en lief is daarvoor, so het Hy ook werk gemaak en is Hy lief daarvoor. Die Bybel sê: ‘…die koningsheerskappy van God is hier by julle’ (Lukas 17:21 NLV). Of jy nou ‘n slagter, ‘n bakker of ‘n kersmaker is, daar word van jou vereis om integriteit in die werkplek te demonstreer.
Dis vernederend wanneer nie-gelowiges sê: ‘Ek sal nooit weer besigheid met ‘n Christen doen nie.’ Jy moet strewe om uitnemend in jou werk te wees. Dinge soos laat kom, die horlosie dophou, rondsit en niksdoen, skinder, flankeer en slegpraat van jou baas moet geen plek in jou lewe hê nie. Die Bybel sê: ‘Van bestuurders word verwag dat hulle hulleself as betroubaar sal bewys.’ Jy moet die volgende bid wanneer jy werk toe gaan: ‘Here, vandag wil ek goeie werk doen en sodoende u Naam verheerlik.’
Sielskos: Mal 1-2; Joh 21:1-14; Ps 139:1-12; Spr 31:25-27