God en jou werk (1)
2023-12-28Prediker 9:10 NLV
Jy sal oplet dat almal in die Bybel werk! Die meeste van die helde in die Bybel het sekulêre beroepe gehad. Isak het eiendom ontwikkel. Jakob was ‘n boer, Josef het God die beste gedien deur in sy goedbetaalde staatspos te bly eerder as om ‘n nie-winsgewende, geloofsgebaseerde organisasie te begin om liefdadigheidswerk te doen. Daniël was ‘n immigrant wat Babel se weergawe van Oxford Universiteit bygewoon het en tot eerste minister bevorder is. Lydia was ‘n winsgewende sakevrou wat in tekstiele handel gedryf het. Jesus, die timmerman, is moontlik die grootste uitdrukking van hoeveel God werk waardeer. Vir meer as driekwart van sy lewe het Jesus in die boubedryf gewerk, tafels en bankies gemaak en was heel waarskynlik by konstruksiewerk betrokke. Die woord waaruit ons ‘timmerman’ vertaal, kom van die Griekse woord tektón af, waaruit ons ook die woord tegnologie kry en bevat die vermoë om klip- of messelwerk te doen.
Die Bybel is deur werkers, oor werkers en vir werkers, neergeskryf. Werk was God se idee. ‘Die Here God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg’ (Genesis 2:15 NLV). Die eerste man, Adam, was ‘n tuinargitek. Deur te identifiseer waarvoor jy in die lewe geroep is en jouself ten volle daaraan oor te gee, is jy net so ‘geroepe’ soos enige dominee wat op ‘n preekstoel staan.
Dis jammer dat ons die woord ‘sekulêr; gebruik om enige werk wat nie vir die kerk gedoen word nie te beskryf, want God sien dit nie so nie. Alle eerlike werk kry sy glimlag van goedkeuring. Wanneer dit by werk kom, is dit wat Hy van jou vereis, in hierdie woorde vervat: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’
Sielskos: Sag 10-14; Joh 20:19-31; Ps 97; Spr 31:22-24