God aanvaar jou ‘in Christus,’ aanvaar dus jouself

2019-07-29
Genesis 1:31 NLV

Jy kan nie iets effektief hanteer totdat jy dit vir wat dit is, aanvaar het nie – insluitend jouself! Om te ‘aanvaar’ beteken dat jy iets gewilliglik ontvang, of dit as reg sien, of daarmee saamstem. Eerstens, behels aanvaarding jou wilsbesluit. Jy kan kies om jouself te aanvaar of nie; dis jou keuse. Tweedens, wanneer iets aanvaarbaar is, beteken dit dat dit as ‘reg’ gesien word. Ons is geneig om onsself te verwerp omdat ons selde dit wat reg is sien en net dit wat verkeerd is met ons, oplet. Dikwels is hierdie houding van vroeg af by ons gekweek deur diegene wat op ons swakhede in plaas van ons sterkpunte gefokus het. Derdens, beteken aanvaarding om met iets saam te stem. As jy ‘n probleem het om jouself te aanvaar, moet jy in ooreenstemming met God se Woord kom. Hy sê dat jy vrygespreek is, begin dus om dieselfde te sê (sien 2 Korintiërs 5:21). Dit kan ‘n tydjie neem om in te sink, maar uiteindelike sal dit binne-in jou wortel skiet. Die Bybel sê: ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’ (Amos 3:3 NLV). Om saam met God op reis te gaan, beteken dat jy met Hom saamstem. Hy sê dat Hy vir jou lief is en jou ‘in Christus’ aanvaar, begin dus om met Hom saam te stem en hou op om jouself af te kraak. Toe God ons gemaak het, het Hy gesien dat dit goed is. Wees egter geduldig – Hy is nie klaar met sy kreatiewe werk in jou lewe nie. Hy wil hê dat jy jouself moet sien soos Hy jou sien en moet leer om jouself lief te hê terwyl jy nog ‘onder konstruksie’ is.

Sielskos: Deut 14-17; Matt 13:1-9; Ps 78:32-39; Spr 16:31