Glo in jou visie
2021-12-31Joël 2:29 NLV
God het deur die profeet Joël gepraat en gesê: ‘…Julle oumense sal drome droom. Jongmense sal visioene sien. In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort’ (verse 28-29 NLV). God het ‘n visie vir jou om te vervul, ongeag jou ouderdom of geslag. In die musiekblyspel, Man of La Mancha, is daar ‘n toneel waar Don Quixote en sy dienskneg voor ‘n vervalle herberg staan. Toe Quixote sy visie van torings en manjifieke hekke beskryf, het sy dienskneg hard probeer om dieselfde prentjie te sien, maar al wat hy kon sien was ‘n ruïne. Toe hy probeer om die ruïne te beskryf, het Quixote gesê: ‘Stop! Ek sal nie toelaat dat jou feite met my visie inmeng nie!’
Baie keer probeer mense die persoon oortuig dat dit nie gedoen kan word nie – of dat hy of sy dit nie kan doen nie. Dikwels bevestig dit die persoon se diepste vrese oor sy of haar vermoë. Dis die keerpunt! As jy jou kritici kan verontagsaam en bo jou vrese kan uitstyg, sal God jou in staat stel om die visie wat Hy vir jou gegee het, te vervul.
Hou egter in gedagte dat die visie dalk in ‘n oogwink na jou toe kan kom, maar dat dit ‘n leeftyd kan neem om dit te vervul. Habakuk skryf: ‘… Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word… Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie’ (Habakuk 2:3 NLV).
‘n Godgegewe droom weerspreek dikwels die feite, so as jy ‘n visie het, moet jy vir ondersteuners en nie vir kritici nie, uitkyk. Wanneer iemand ook dan sy of haar visie met jou deel, moet jy hulle rasieleier word.
Sielskos: Fil 3:8-14; 2 Kor 5:14-21; Ps 77:11-20; Spr 9:10-12