Glo in jou visie
2024-08-10Habakuk 2:2 NLV
God het ‘n plan vir jou lewe. In die Skrif word daar soms daarna verwys as ‘n ‘visioen.’ Dit werk soos ‘n kompas wat jou altyd in die regte rigting wys en ‘n anker wat jou standvastig in die lewe se storms hou. Hoekom het God gesê: ‘…Skryf… die visioen, in groot duidelike letters…’? Omdat ons soms ons visie diep in ons hart begrawe om onsself teen ander mense se kritiek te beskerm.Vrees veroorsaak dat ons ons visie buite sig hou sodat ons nie daaraan hoef te dink nie. Soms gee ons ons visie op, omdat dit te seer maak en te veel kos om daaraan vas te hou. Wat moet jy dus doen?
Eerstens moet jy ‘n visie hê wat duidelik en oortuigend is. Tweedens moet jy jou visie te alle tye voor jou hou. Nadat Josef pynlike verwerping deur sy familie en valse beskuldigings deur sy baas se vrou ervaar het, wat tot dertien jaar van onregmatige gevangenisstraf gelei het, sê die Bybel: ‘Dit het hom dadelik laat dink aan die drome van jare gelede…’ (Genesis 42:9 NLV). Derdens moet jy onthou dat God ‘n tyd geskeduleer het vir jou visie om vervul te word: ‘…Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word. Wag geduldig, al voel dit of dit stadig gaan. Wees seker dit gaan gebeur…’ (Habakuk 2:3 NLV).
Paulus skryf: ‘…Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom’ (Filippense 4:11 NLV). Paulus het homself nooit toegelaat om ontsteld te wees oor waar hy op die oomblik was nie; hy het geweet dat God te alle tye by hom was en hy het altyd uitgesien na waarheen God hom sou neem. Geniet dus hierdie dag, met die wete dat God jou toekoms beplan het.
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Luk 12:13-21; Ps 119:17-24; Spr 20:22-24