Glo dat God jou gehoor het

2020-12-17
Johannes 11:41 NLV

Voordat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het, het Hy gebid: ‘…Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na My geluister het.’ Wanneer jy weet dat jou gebed in harmonie met God se wil is, kan jy jou gebed met dieselfde woorde afsluit. Nadat jy gebid het, wil die duiwel hê dat jy daarvan moet weggaan en wonder of God jou gehoor het en of Hy gewillig is om jou versoek toe te staan. Wanneer jy egter weet dat God jou gebed gehoor het, dink, praat en tree jy anders op. Angs word met vrede vervang.

Hier is ‘n paar Skrifgedeeltes waarop jy kan mediteer: ‘Maar as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie’ (Jakobus 1:6-7 NLV). ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV). ‘…julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie… alles wat julle in gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:23-24 NLV).

Begin vandag om God te dank dat Hy na jou gebed geluister het en dat Hy dit op ‘n manier wat die beste vir jou is, sal antwoord.

Sielskos: Neh 11-13; Joh 20:10-18; Ps 57; Spr 30:24-28