Gehoorsaam God, ongeag (2)

2022-11-20
2 Korintiërs 1:8 NLV

Job beskryf die belonings van gehoorsaamheid: ‘As hulle luister en Hom gehoorsaam, word hulle geseën met voorspoed deur hulle hele lewe’ (Job 36:11 NLV). Johannes voeg by: ‘Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:22 NLV).

Paulus beskryf egter die prys van gehoorsaamheid: ‘Ons wil nie hê dat julle… oningelig moet wees oor ons swaarkry in die provinsie Asië nie. Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek. Dit is Hy wat ons van só ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting. Hy sal ons altyd weer red’ (2 Korintiërs 1:8-10 NLV).

Let op die woorde: ‘Hy het ons gered… Hy sal ons weer red… Hy sal ons altyd weer red.’ God het nie Paulus uit sy probleme gered nie, Hy het saam met hom daarin gestap en hom daardeur gebring. Jy sê: ‘Maar ek het God gevra om my te help om hierdie situasie te verstaan en Hy het nie.’ God skuld ons nie ‘n verduideliking nie, maar Hy beloof ‘n uitweg. ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – gehoorsaam God, ongeag wat.

Sielskos: Eks 17:1-7; Joh 4:1-42