Gehoorsaam God, ongeag (1)
2022-11-19Hebreërs 5:8 NLV
Die beloning vir gehoorsaamheid is wonderlik, maar soms is die proses pynlik. ‘Selfs al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. Op hierdie manier is Hy bekwaam gemaak…’ (verse 8-9 NLV).
Voor God jou tot ‘n posisie van bruikbaarheid in sy diens bevorder, rus Hy jou toe. Ons bewonder Abraham, wat sy seun Isak na Moria toe geneem en hom op ‘n altaar neergelê het, se geloof. Die verhaal maak egter nie sin totdat jy die eerste vers in die hoofstuk lees nie: ‘Na ‘n tyd wou God Abraham se geloof en gehoorsaamheid toets…’ (Genesis 22:1 NLV). Wat het God getoets? Sy geloof! Sy gehoorsaamheid! Toe hy die toets geslaag het, het God vir hom gesê: ‘…Ek [sal] jou oorvloedig seën. Ek sal jou nageslag vermenigvuldig tot ‘n ontelbare menigte…’ (Genesis 22:17 NLV).
Jy moet die volgende verstaan: Wanneer jy bid en God vir sukses vra, nooi jy Hom uit om jou geloof en gehoorsaamheid te toets. God sal jou heel waarskynlik nie op dieselfde vlak as Jesus en Abraham toets nie. Dis egter die kleiner toetse wat jou voorberei om die groter opdragte in God se koninkryk te hanteer.
In The Screwtape Letters, praat C.S. Lewis se senior duiwel met sy neef, Wormwood, oor hul gemeenskaplike vyand, die Here. ‘Do not be deceived, Wormwood. Our cause is never more in danger than when a human, no longer desiring, but still intending to do our Enemy’s will, looks round upon a universe from which every trace of Him seems to have vanished, and asks why he has been forsaken, and still obey.’ Die gehoorsaamheid wat God vandag van jou verwag, is ‘n gehoorsaamheid wat bo jou gevoelens en omstandighede uitstyg en ‘Ja, Here!’ sê.
Sielskos: 1 Kron 19:1-23:20; Joh 10:11-21; Ps 50; Spr 26:27-28