Geestelike groei is ‘n groepsprojek

2021-09-14
Psalm 122:1 NLV

Die Psalmdigter het gesê: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: ‘Kom ons gaan na die huis van die Here.'” Voel jy ook so oor God se huis? Paulus skryf: ‘…Julle is deel van die gebou wat God in hierdie wêreld aan die bou is. Die fondament van die gebou is die boodskap oor Jesus wat julle gehoor het van die manne wat deur God gestuur is en namens Hom praat. Die belangrikste steen in die gebou, waarsonder die gebou sommer inmekaar sal val, is Jesus self. Omdat ons almal Jesus s’n is en Hy ons Here is, vorm ons almal saam ‘n sterk en stewige gebou. Dit is soos ‘n spesiale huis net vir God. Elkeen van julle wat Jesus s’n is, is deel van hierdie gebou. En God self woon in julle gebou omdat sy Gees in julle is’ (Efesiërs 2:20-22 DB).

Daar is tye wanneer jy alleen met God in gebed moet wees en daar is tye wat jy die antwoord wat jy soek, slegs sal vind wanneer jy saam met God se mense is. Wanneer diegene in wie God se Gees woon bymekaar kom vir lofprysing, onderrig, bemoediging en diens, daag God op ‘n kragtige manier op. Jy groei geestelik soos jy sy teenwoordigheid ervaar, sy Woord hoor en genootskap met jou broers en susters in Christus het.

Dis moeilik om alleen fees te vier. Wanneer jy iets het wat gevier moet word, roep jy oor die algemeen mense bymekaar om in jou vreugde te deel, nie waar nie? Jesus was so opgewonde oor sy oorwinning aan die kruis, dat Hy ons elke week bymekaar roep om dit wat Hy vir ons bereik het, te vier. Feesviering, soos geestelike groei, is ‘n groepsprojek.

Sielskos: Eseg 46-48; Luk 21:25-38; Ps 78:40-55; Spr 20:22-24