Gees-beheerde gedagtes

2021-08-21
Romeine 8:6 NLV

Die Bybel sê: ‘…Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak. As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede’ (vers 5-6 NLV). Met ander woorde, die Heilige Gees is die teenwoordigheid van God wat in jou lewe werk. Jy gee óf jou gedagtes aan die beheer van eksterne invloede en omstandighede oor, óf jy gee dit oor aan die Heilige Gees om te beheer. Hoe sal so ‘n lewe lyk?

Verbeel jouself ‘n lewe waar jy nie so vreesbevange is nie. Verbeel jouself dat jy finansiële probleme of ‘n woedende baas met innerlike kalmte en vasbeslotenheid kan tegemoet kom. Verbeel jouself dat jy slegte nuus kan ontvang en konstruktiewe maniere kan genereer om die probleem op te los. Verbeel jouself dat jy jou foute kan erken en met selfvertroue die toekoms kan binnegaan. Verbeel jouself dat jy dit alles met God as jou vennoot kan doen. Verbeel jouself dat die mense rondom jou na jou toe kan kom wanneer hulle ontsteld of moedeloos is, omdat jou sin van vrede aansteeklik is.

Wanneer jy mense teëkom wat gestres is, is jy veronderstel om ‘n verspreider van vrede te wees. Jesus het vrede oral waar Hy gegaan het, met Hom saamgedra. Toe die dissipels vreesbevange oor die storm was, het Hy eenvoudig vir die golwe gesê: ‘…Bedaar! Word kalm!..’ (Markus 4:39 NLV), en dit het gebeur. Jy kry nie vrede wanneer jy ‘n see sonder storms kry nie, jy kry vrede wanneer jy weet dat Jesus in jou boot is en dat geen storm jou onder kan kry, wanneer Hy aanboord is nie.

Sielskos: Gal 4-6; Luk 16:1-18; Ps 119:113-120; Spr 18:10-12