Gee jou bekommernisse aan God
2020-12-22Matteus 6:27 NLV
Bekommernis verander niks, behalwe jouself – en nie ten goede nie. Dit sal nie jou rekeninge betaal, jou familieprobleme oplos of vir jou ‘n goeie nagrus gee nie. Jy kan nie een dag by jou lewe of een minuut by jou dag voeg deur jou te bekommer nie. Jy kan wel vroeg oud word en voor jou tyd sterf.
Lees die volgende twee Skrifgedeeltes aandagtig: ‘Hulle wat op die Here vertrou is soos Sionsberg; hulle is onbeweeglik en sal vir altyd bly bestaan’ (Psalm 125:1 NLV). ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). Beide Skrifgedeeltes bevat die woord ‘vertrou.’
Bekommernis openbaar eenvoudig ons gebrek aan vertroue in God! Wie vertrou ons dus? Onsself! Eers wanneer dit nie meer werk nie, is ons gewillig om ons probleem aan God te gee. Kan jy jou indink om vir Michaelangelo te vra: ‘Is jy seker jy weet wat jy met daardie stuk marmer doen?’
God weet wat Hy doen en wanneer jy Hom vertrou: ‘…sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Paulus gebruik hier ‘n militêre metafoor. Die mense in Fillipi het onder Romeinse besetting geleef, wat sleg was. Hulle het egter geweet dat veiligheidswagte hulle stad oppas, wat goed was. Hulle het geweet dat ‘n vyand eers verby die veiligheidswagte moes kom, voor hulle by hulle sou uitkom. Omdat jy ‘in Christus’ is, moet Satan eers verby Hom kom om by jou uit te kom.
Niks – absoluut niks – sal by jou kom sonder om eers deur Hom te gaan nie! Wanneer jy dit aanvaar, sal God se vrede jou hart vul.
Sielskos: Sag 1-4; Matt 1:1-6a; Ps 128; Spr 31:10-13