Gebruik die ‘lofprysing strategie’

2019-05-15
Psalm 149:6 NLV

Die Christelike lewe is ‘n slagveld met ‘n vyand wat daarop uit is om ons elke dag te verslaan. God het ons egter strategieë gegee om te wen, waarvan lofprysing een is. Wanneer Israel se weermag oorlog gemaak het, het die stam Juda die leiding geneem. Die naam ‘Juda’ beteken ‘loof die Heer.’ Wanneer jy dus die geveg binnegaan, loof God met jou lippe en Hy sal voor jou uitgaan. Dis die ‘lofprysing strategie’ wat die mure van Jerigo vir Josua laat ineentuimel het en veroorsaak het dat Josafat se vyande mekaar vernietig het nog voor die geveg begin het (sien 2 Kronieke 20). Dis ‘n besluit om God te loof wanneer jy voor ‘n situasie te staan kom wat jy nie kan hanteer nie; om op Hom eerder as jou probleem te fokus. Jy mag dalk nie waardig voel nie – maar Hy is! Jy mag dalk nie in staat voel nie – maar Hy is! Herinner God aan sy beloftes. Niks roer Hom meer as die aangesig van sy kinders wat sy Naam loof en sy beloftes opeis nie. Jesus het gesê: ‘Ek vertrou die sleutels van God se koninkryk aan jou toe. Wat jy ook al op aarde toesluit, sal ook by God toegesluit bly, en wat jy ook al oopsluit, sal ook by God oopgesluit bly’ (Matteus 16:19 NLV). Lofprysing nooi God uit om in te tree, gebruik dit dus. Kry ook iemand om by jou in lofprysing aan te sluit (sien Matteus 18:19). Vermenigvuldig jou impak voor die troon van God. Die Bybel sê: ‘Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing… Al die tronkdeure het [skielik] oopgevlieg…’ (Handelinge 16:25-26 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Gebruik die ‘lofprysing strategie!’

Sielskos: Heb 11:17-13:25; Mark 7:1-13; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26