Gebed (6)

2021-09-21
Johannes 15:7 NLV

In Mei 1996 het ValuJet vlug 592 in ‘n moeras in Florida neergestort. 110 passasiers is in die ramp oorlede. Kundiges in die vloot het met spesiale tegnologie, maar sonder sukses, probeer om die vliegtuig se swart boks op te spoor. Deur aan ‘n tou vas te hou wat hulle op ‘n afstand van ‘n meter uitmekaar gespasieer het, het die soekgeselskap deur elke sentimeter vuil water gesoek. Na veertien dae het hulle niks gekry nie. Die fisiese toestande was ondraaglik. Die son het op hulle neergebak en die temperatuur het tot bo dertig grade celcius gestyg. Diesel en bytende hidrouliese vloeistof het in die water gedryf, wat die soekgeselskap genoop het om verskeie lae beskermende rubber te dra. Die twee weke het hulle gedehidreerd gelaat, maar hulle moes die swart boks opspoor.

Sersant Felix Jimenez was deel van die soekgeselskap. Vir veertien dae lank het hy vir die bedroefde families en die veiligheid van sy medewerkers gebid. Toe hy op die vyftiende dag ‘n ruskans neem, het hy skielik besef dat hy vergeet het om vir een belangrike ding te bid: dat God hulle sou help om die swart boks te kry. Dus het hy God vir leiding gevra, die soektog hervat en toe hy sy paal in die water steek, het hy iets metaalagtig getref. Hy het die voorwerp uit die modder uit getrek. Dit was die swart boks.

Jimenez skryf: “Ek het aan die baie dae gedink wat ons vir die opnemer gesoek het, hoe ons verskeie kere daaroor moes geloop het en ek het gewonder hoekom dit ons so lank geneem het om dit op te spoor. Te midde van die lae geritsel van gras en die geroep van die wilde reier, het dit geklink asof ek die antwoord hoor: ‘Waarom het dit jou so lank geneem om te vra?'”

Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Luk 22:39-53; Ps 19; Spr 21:3