Gaan jy wens dat jy meer gegee het?
2022-06-092 Korintiërs 9:7 NLV
Die rolprent, Schindler’s List, vertel die verhaal van een man se pogings om die beste van ‘n desperate situasie te maak. As die direkteur van ‘n ammunisiefabriek in Pole, het Oskar Schindler besluit om sy posisie te gebruik om Joodse lewens te red. Deur hulle in sy fabriek in diens te neem, het Schindler baie veroordeelde Jode van die gaskamers gered. Dit was egter duur om hulle in diens te hou, dus het hy bietjie vir bietjie sy persoonlike eiendom begin likwideer om sy besigheid aan die gang te hou. Aan die einde van die verhaal word die Nazi’s verslaan en die volle impak van Schindler se pogings word geopenbaar namate die dooies getel word en die lewendes terug na vryheid steier.
In een toneel, knielend by die spoorlyne wat duisende tot hul dood gedra het, het Schindler ‘n verbysterende besef gehad. Hy kon meer mense gered het! Oorweldig met spyt, betreur hy dat hy die paar persoonlike bates wat hy nog besit, behou het. As hy maar net geweet het wanneer die oorlog sou eindig, sou hy meer gedoen het. Nou was dit te laat. Oskar Schindler was ‘n held. Daar word gereken dat hy meer Jode as enige ander enkele persoon tydens die Tweede Wêreldoorlog gered het. Interessant genoeg het hy gewens dat hy meer gedoen het.
‘n Kragtige les uit Schindler se verhaal is die volgende: Selfs blymoedige gewers sal op hulle lewens terugkyk en wens dat hulle meer gedoen het. Daar is ook ander wat minder gegee het as wat hulle kon, of diegene wat nooit gegee het nie. Kan jy jou hul gedagtes indink as hulle voor God staan en rekenskap moet gee oor hoe hulle hul hulpbronne aangewend het om ooreenstemmend beloon te word? ‘God het die blymoedige gewer lief,’ kyk dus vandag uit vir geleenthede om te gee.
Sielskos: Op 5-9; Matt 15:29-39; Ps 16; Spr 13:1