Evangeliseer of versteen (2)

2023-09-19
Handelinge 2:47 NLV

Die kerk het net twee opsies: evangeliseer of versteen. Wanneer ons nie daarin slaag om ons geloof met diegene buite die kerk te deel nie, versteen ons. Die Nuwe Testamentiese kerk se groei is as volg beskryf: ‘…En die Here het elke dag mense wat gered word, by hulle gevoeg.’ Nie net het hulle elke vlak van die samelewing beïnvloed nie, maar hulle vyande het ook gesê: ‘…Dít is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. En nou is hulle hier in ons stad’ (Handelinge 17:6 NLV).

As jou kerk sy deure more sou sluit, sou enigiemand anders as jou gemeente die verskil agterkom? Dink aan daardie vroeë gelowiges. Hulle opdrag het geografies onmoontlik gelyk; die meeste mense het op daardie stadium nog geglo dat die aarde plat is. Daar was nie vliegtuie, radio’s, televisie, drukperse, internet of enige moderne maniere wat hulle kon gebruik om die evangelie uit te dra nie. Dit het ook wetlik onmoontlik gelyk; hulle is deur die regeringsowerhede verbied om in Jesus se Naam te praat. Ook het dit sosiaal onmoontlik gelyk; wie sal immers regtig na ‘n klomp Galileërs, sonder kultuur en klas, luister?

Tog was hulle getuies deur die krag van die Heilige Gees en mense het geluister. Hulle het so baie met so min gedoen, terwyl ons so min met so baie gedoen kry. Daar word gereken dat indien slegs 10 persent van die lede van ‘n gemiddelde kerk ernstig oor evangelisasie raak, hulle kerk binne een jaar sal verdubbel. Terloops, die woord waaruit ‘getuie’ vertaal word, is dieselfde woord waaruit ons die woord martelaar kry. Hierdie vroeë gelowiges het die wêreld vir Christus bereik, omdat hulle bereid was om hulle lewens vir sy saak af te lê. Jy moet ook bereid wees.

Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Mark 14:1-11; Ps 24; Spr 21:1-2