Evangeliseer of versteen (1)

2023-09-18
Handelinge 1:8 ABA

Vince Lombardi het die Green Bay Packers-voetbalspan tot oorwinning ná oorwinning gelei. Eendag het hulle egter teen ‘n span wat hulle maklik moes gewen het, verloor. Lombardi het sy span bymekaar gemaak. Hy het sy hand in ‘n sak gesteek en ‘n voetbal te voorskyn gebring. Met ‘n glimlag het hy vir hulle gesê: ‘Manne, dit is ‘n voetbal!’ Met ander woorde, dit was tyd om na die basiese beginsels terug te keer.

Jesus is ons Voorganger (sien Hebreërs 2:10). Voor Hy opgevaar het na die hemel, het Hy vir ons sy wedstrydplan gegee: ‘Maar julle sal krag kry wanneer die Heilige Gees in julle kom. Dan sal julle my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot by die einde van die wêreld’ (Handelinge 1:8 ABA). Omdat ‘n persoon se laaste woorde van sy belangrikste is, lei dit ons om die volgende te vra: ‘Met wie het Jesus gepraat?’ Met jou! ‘…Dan sal julle my getuies wees…’

Daar is mense vandag wat nooit kerk toe sal gaan nie. Hulle enigste kans om die evangelie aan te hoor is deur jou; deur wat jou lippe verklaar en jou lewe demonstreer. Wat is die ‘krag’ waarvan Jesus gepraat het? Die Griekse woord vir ‘krag’ is dynamos, waaruit ons die woord dinamiet aflei. Dinamiet is ‘n plofbare krag wat, wanneer dit behoorlik ingespan word, enige hindernis wat in die pad van vordering staan kan verwyder.

Jy sê: ‘Ek was nog nooit by ‘n kweekskool nie en ek voel nie bekwaam om die evangelie te deel nie!’ God roep nie die gekwalifiseerdes nie; Hy kwalifiseer die geroepenes deur hulle met Sy Gees te vul en hulle te gebruik om ‘n seer wêreld te bereik. Vandag word jy geroep om dit te doen.

Sielskos: Eseg 37:1-40:9; Mark 13:24-37; Ps 78:65-72; Spr 20:26-30