Erken jou fout
2023-09-26Spreuke 28:13 NLV
Foute is deel van die lewe. Suksesvolle mense erken hul foute, leer daaruit en werk daaraan om hulle te korrigeer. ‘n Studie van 105 bestuurders het algemene kenmerke wat deur suksesvolle mense gedeel word geïdentifiseer, maar een waarneming was veral nuttig. Suksesvolle mense erken hul foute en aanvaar die gevolge, in plaas daarvan om ander te blameer.
Nie een van ons geniet dit om die gevolge van ons dade te dra nie. Wanneer dinge verkeerd loop, het ons ‘n natuurlike neiging om na iemand om te blameer, te soek. Dit is in ons DNA. Toe God in die tuin van Eden vir Adam vra wat hy gedoen het, het Adam vir Eva die skuld gegee. Toe God vir Eva ondervra, het sy die Duiwel geblameer. Iemand het gesê hoe gouer jy misluk, hoe meer tyd het jy om te verbeter.
Vra jouself af: ‘Wat het ek geleer? Hoe kan ek hierdie mislukking in sukses verander? Waar het ek sukses ten spyte van die mislukking behaal?’ Mense wat ander mense vir hulle mislukkings blameer, oorkom hulle nooit; hulle beweeg net van probleem na probleem. Om jou hoogste potensiaal te bereik, moet jy jouself aanhoudend verbeter en jy kan dit nie doen as jy nie verantwoordelikheid neem en uit jou foute leer nie.
In die lewe sal jy altyd probleme hê. Die vraag is: Sal jy bly lê, of weer op jou voete kom en die beste van dinge maak deur te besluit om nog ‘n dag te veg? Henry Ford het gesê: ‘Mislukking is eenvoudig net die geleentheid om weer te begin – hierdie keer met meer intelligensie.’ Leef dus volgens die volgende Bybelse beginsel: ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan…’ (Spreuke 24:16 NLV).
Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Mark 14:66-72; Ps 52; Spr 21:17