Elke kind het ‘n held nodig

2023-06-18
Jesaja 28:9 AFR83

‘n Besorgde pa het hierdie brief aan die sportafrigter by sy seun se skool geskryf: ‘Beste Afrigter, ek het pas jou brief aan ons seun waarin jy jou verwagtinge vir jou atlete beskryf, gelees. Jannie se ma en ek stem volkome saam. Ons het lankal die waarde van sport in kinders se lewens besef. Wanneer mens na jou rekord kyk, kan mens sien dat jy die spel goed afrig. Daar is egter nog ‘n fase van afrigting wat selfs belangriker is.

Laat my toe om te verduidelik. Ons gee vir jou ons kosbaarste besitting. Gedurende die volgende vier jaar sal ons seun jou die onderwerp van baie van die gesprekke in ons huis maak. Hy sal ons vertel hoe jy die Green Bay Packers se span kon behaal het as jy nie jou knie in 1985 beseer het nie. Hy sal ons van jou emosionele toespraak toe julle agter was teen halftyd vertel en hoe julle uiteindelik die wedstryd daardie dag gewen het. Ons sal hoor hoe jy nog steeds die bal kan aangee en kan skop. Ons sal dit alles hoor terwyl ons seun se oë blink.

Jy sien, hy sal jou verafgod. Ons het deesdae nie meer helde nie. Baie professionele atlete sal hulle siel vir ‘n paar rand verkoop. Baie atlete was hierdie jaar om negatiewe redes in die nuus. Ons weet dat alle atlete nie steel en dwelms gebruik nie, maar dis waarvan ons in die media lees. Jy is dus ons seun se held en ons maak op jou staat. Sy spiere mag dalk amper ontwikkel wees, maar sy gedagtes is nog broos en beïnvloedbaar. Jou verantwoordelikhede is groot. Beïndruk hom asseblief!’

Die wêreld is vol bendes, dwelms en geweld omdat ‘n kind die verkeerde held gekies het. Jy kan dit alles help verander – al is dit net vir een kind. Dink daaroor.

Sielskos: Fil 4:4-13; Gen 11:1-9