Draai na God se Woord toe!
2018-11-09Psalm 89:35 NLV
Mediese kundiges sê dat elkeen van ons depressie in een of ander vorm gedurende ons leeftyd sal ervaar. ‘n Groot gedeelte van die bevolking word elke dag in ‘n wolk van somberheid wakker. Jy mag dalk een van hulle wees. Daar is ‘n gewilde kinderboek genaamd Alexander and the Terrible, Horrible, No Good, Very Bad Day. Alexander raak aan die slaap met kougom in sy mond en word wakker met die kougom in sy hare. Sy boks graanvlokkies het nie ‘n speelding in nie en hy kry dit nie reg om, ten spyte van sy beste pogings, sy onderwyser te beïndruk nie. Hy besluit etlike kere om na Australië toe te verhuis. Ongelukkig werk geografiese kure nie. Jy los nie die probleem op nie; jy verskuif dit net. Wat kan jy dan doen? Draai na die een bron van krag, hoop en bemoediging wat nooit faal nie – God se lewende Woord. God sê, ‘Ek sal my verbond nie verbreek nie, en wat Ek gesê het, nie verander nie.’ As jy vandag mismoedig voel, is hier ‘n paar Skrifgedeeltes waaraan jy kan vashou: ‘Met ‘n woord het Hy hulle genees, en hulle van die dood weggeruk’ (Psalm 107:20 NLV). ‘Tog is ek daarvan oortuig: Die Here se goedheid sal ek sien hier in die land van die lewendes’ (Psalm 27:13 NLV). ‘In tye van nood sal ek U aanroep, en U sal my antwoord’ (Psalm 86:7 NLV). ‘Die Here is nie te swak om julle te red nie. Hy is nie te doof om julle te hoor nie’ (Jesaja 59:1 NLV). ‘U sal my in eer herstel en weereens my vertrooster wees’ (Psalm 71:21 NLV).
Sielskos: Jes 58-62; Joh 9:1-12; Ps 15; Spr 29:4-6