Doen wat God sê

2023-11-30
Genesis 15:1 NLV

Wanneer God vir jou ‘n visie vir jou lewe gee, gee Hy nie dadelik al die details vir jou nie. Hy sê eenvoudig: ‘Moenie bang wees nie; doen net wat Ek sê en Ek sal jou lei en jou voorspoedig maak.’ Wat het Abram se visie behels? ‘Die Here het vir Abram gesê: ‘Trek uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis en gaan na die land wat Ek jou sal aanwys. Ek sal jou die voorvader maak van ‘n groot nasie. Ek sal jou seën…’ (Genesis 12:1-2 NLV). Hoe oud was Abram? ‘…Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran getrek het’ (Genesis 12:4 NLV). Wat het Abram agtergelaat? ‘Abram was baie ryk aan lewende hawe, silwer en goud’ (Genesis 13:2 NLV). Hoe het Abram gereageer? ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ‘n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland’ (Hebreërs 11:8 NLV).

Abraham sou nie vir jou kon sê waar sy finale bestemming is of hoe hy daar sou kom nie. Hy het slegs geweet dat God vir hom gesê het om die veilige hawe waar hy was, te verlaat. Verstaan die volgende: Dit waarvan jy gewillig is om weg te stap, bepaal dikwels wat God aan jou kan toevertrou. Met elke tree van geloof wat jy neem, sal God nog ‘n detail openbaar. Hy sal jou inlig soos jy die kennis nodig kry. Is die God wat vir Abram gesê het: ‘…gaan na die land wat Ek jou sal aanwys…’, besig om vandag iets soortgelyk vir jou te sê? Moenie bang wees nie; tree net uit in geloof en wees aan Hom gehoorsaam.

Sielskos: 2 Kron 29-31; Joh 12:20-36; Ps 118:19-29; Spr 28:5-8