Doen iets!

2023-08-26
1 Johannes 3:18 NLV

Toe iemand vir ‘n multimiljoenêr gevra het hoeveel geld mens nodig het om gelukkig te wees, het hy geantwoord: ‘Net nog ‘n bietjie.’ Kom ons neem aan dat jy nie so is nie en vir ander mense omgee. Hoekom is jy nie meer daarby betrokke om aan hulle behoeftes te voldoen nie? ‘Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broers en susters sien gebrek ly, maar weier om ‘n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon? Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of gepratery nie, maar eerder deur ons optrede…’ (verse 17-18 NLV). Hierdie Skrifgedeelte kan in twee woorde opgesom word: Doen iets!

In die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan, het twee verskillende predikers op die Jerigopad verby ‘n sterwende man geloop sonder om te stop en hulp aan te bied. Hoe het hulle so onsensitief en onwillig geword? Het hulle gedink: ‘Die probleem is te groot, daar is niks wat ek daaraan kan doen nie?’ Was hulle so op hulle kerk se agenda gefokus dat hulle nie die tyd of hulpbronne om hierdie man weer op sy voete te kry, wou afstaan nie?

Jesus het gesê: ‘Toe het ‘n veragte Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry. Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ‘n herberg geneem en daar verder versorg’ (Lukas 10:33-34 NLV). Die Samaritaan het hom innig jammer gekry. Hy was bereid om emosioneel betrokke te raak. Jy moet ook wees. Die woord vir jou vandag is dus – doen iets!

Sielskos: Rig 19:16-21:25; Mark 8:14-26; Ps 119:137-144; Spr 18:22-24