Doen iets daaraan!
2018-04-03Efesiërs 2:10 NLV
Die Bybel sê God het ons ‘…só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.’ Ons lewe in ‘n verwoestende tyd. ‘n Biljoen mense ly honger, miljoene word as slawe verkoop en pandemiese siektes wis hele nasies uit. Elke jaar word amper twee miljoen kinders in die globale sekshandelbesigheid uitgebuit. In die paar minute wat dit jou neem om vandag se dagstukkie te lees, het amper negentig kinders aan voorkombare siektes gesterf. Meer as die helfte van die mense in Afrika het nie toegang tot moderne gesondheidsfasiliteite nie. Gevolglik sterf tien miljoen elke jaar as gevolg van diarree, longkwale, malaria en masels. Baie van hierdie sterftes kon deur een inspuiting voorkom gewees het. Jy vra, ‘Wat kan ek daaraan doen?’ God beantwoord gebede, dus kan jy bid vir diegene wat ly. Jy kan gee, of dit nou min of baie is. Jy kan ook vrywillige werk doen. Jy word deur wonderlike organisasies omring wat na die behoeftes van mense omsien. Jy moet betrokke raak, want jou lewe snel verby en as jy nie versigtig is nie, sal jy een dag opkyk en jou een kans op ‘n sinvolle lewe sal verby wees. Sommige mense bemoei hulle nie met sulke gedagtes nie. Hulle beweeg deur hulle dae sonder om hulle oë op te lig en te kyk. Hulle lewe en sterf en vra nooit hoekom nie. As jy wil hê dat jou lewe moet saakmaak, lewe dit op so ‘n manier dat die wêreld oor jou bly sal wees. Jy is geskep en verlos sodat jy ‘…die goeie werke wat Hy vir [jou] bestem het, kan uitlewe.’ Wanneer jy eendag voor God staan, sal Hy jou vra hoe goed jy jou opdrag uitgevoer het en jou daarvolgens beloon.
Sielskos: Jer 18-21; Matt 28:16-20; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31