Doen goed aan ander
2021-07-151 Timoteus 6:17-18 NLV
Daar is min bestuurders wat taaier as Bob Thompson was. Vir veertig jaar lank het hy sy werkers gedruk om ses dae ‘n week, van April tot Desember, hard te werk om die werk klaar te kry voor die eerste sneeu val. Hulle lojaliteit, sweet en harde werk het gehelp om hom ‘n baie ryk man te maak. Thompson het dit onthou en guns aan hulle terug bewys. Toe hy sy maatskappy, Michigan se grootste teer- en plaveiselbesigheid verkoop het, het hy vir sy huidige en afgetrede werknemers $128 miljoen van die wins gegee.
Thompson het die Thompson-McCully maatskappy met $3,500 wat sy vrou, Ellen, met onderrig verdien het, begin. Die eerste vyf jaar van die besigheid was uitdagend. Thompson het nie eers ‘n salaris getrek nie. Hoekom het hy dan later so baie van sy fortuin weggegee? ‘Dit was die regte ding om te doen,’ het hy gesê. ‘Jy besef dat die mense rondom jou al die pyn en lyding saam met jou deurgemaak het. Ek wou hulle daarvoor terugbetaal.’ Toe die tjeks uitgedeel is, was Thompson nie teenwoordig nie. Hy het gesê: ‘Ek wou nie daar wees nie, want dit raak te emosioneel.’
Hierdie man het opgetree soos waarvan die apostel Paulus gepraat het: ‘Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld om… hulle geld [te] gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel.’
Om goed te doen moet nie net hier en daar gebeur nie. Dis ‘n voltydse werk. ‘n Persoon met goeie karakter vra hom of haar in elke situasie af: ‘Wat is die regte ding om te doen?’ Die antwoord is altyd: ‘Doen goed aan ander.’
Sielskos: Hand 10-11; Luk 7:24-35; Ps 118:19-29; Spr 15:33