Dit wat slegs God sien

2022-04-21
Matteus 6:18 NLV

Het jy al ooit ‘n konsert bygewoon waar hulle die nuutste oudiovisuele toerusting gebruik het? Die kans is goed dat jy jou aan die multidimensionele beelde en klanke vergaap het en na die tyd van die wonderlike vaardighede van die kunstenaars gepraat het. As die vertoning sonder enige foute afgeloop het, het jy heel waarskynlik nie aan die klank- en beligting tegnici gedink nie. Ons merk hulle gewoonlik slegs op wanneer die toerusting foutief is. Hulle is die onsigbare element; die mense wat hulle werk doen om die kunstenaar goed te laat lyk en klink. Die kunstenaars in die kollig ontvang die lof daarvoor. Dis hoe dit in die aardse koninkryk werk.

Die koninkryk van God werk egter op die beginsel dat ‘…baie wat nou so vernaam lyk, heeltemaal onbelangrik [sal] wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees’ (Matteus 20:16 NLV). Jesus het gesê dat wanneer jy vas, bid en gee sonder om iets daarvoor te verwag, sal ‘…jou Vader wat alle geheime ken… jou beloon.’

Op ‘n groot skip is slegs die kaptein en ‘n handjievol offisiere op die brug sigbaar. Dis egter die bemanning onder die dek wat die skip se vordering oor die grootste deel van die skeepsreis, bepaal. In God se kerk, is dit die ‘bemanning in die enjinkamer’ wat getrou baie van die werk doen: die skoonmaakspan, kleuterskoolonderwysers, busbestuurders, karwagte, mense wat bejaardes in die ouetehuis besoek, mense wat na gevangenes uitreik en gebedsvegters.

Terwyl hoëprofiel mense gewoonlik die meeste lof kry, gee God spesiale erkenning en belonings aan die bemanning wat ongesiens hul werk doen! As jy een van hulle is, sal jy gou sy publieke aankondiging hoor: ‘…Goed gedoen, goeie slaaf; omdat jy in die geringste getrou was…’ (Lukas 19:17 NLV). Wanneer dit gebeur, sal niks anders meer saak maak nie!

Sielskos: 1 Kor 10-11; Luk 24:45-49; Ps 130; Spr 10:12