Dit is tyd om die stryd te beëindig

2022-04-19
2 Korintiërs 5:19 NLV

God het ons geskep om ongebroke genootskap met Hom en mekaar te geniet. Dis hoekom Satan se eerste plan was om ons van God – en van mekaar – te skei. Deur dinge soos trots, hardkoppigheid, verwardheid, wrokkigheid en selfsug te gebruik, dryf hy ‘n wig tussen ons in en polariseer verhoudings. Wat as ‘n misverstand begin het, eindig dikwels op in woedende rusies of toksiese stiltes wat vir ure, dae en selfs jare kan aanhou.

Ons mislei onsself ook deur te dink dat dit niemand anders se besigheid is nie. Die effek daarvan kan nie bedwing word nie. Dit affekteer elke verhouding in ons lewens – net omdat ons vasbeslote is om te bewys dat ons reg en die ander persoon verkeerd is. Dis nie net ‘n sielkundige probleem nie; dis ‘n sondige probleem wat ‘n goddelike oplossing benodig!

Paulus skryf: ‘Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie…’ Sonde het ons verhouding met God vernietig. Tog het Hy die inisiatief geneem deur Jesus as ‘n ‘…losprys vir baie mense…’ (Markus 10:45 NLV), te gee, om ons met Homself te versoen. Versoening beteken om dit wat saamhoort weer bymekaar terug te bring!

Let op: God hou nie ‘…die mense se oortredings teen hulle…nie.’ Hy het dit aan die kruis gekanselleer en opgehou om dit teen ons te hou. Dit het ook nie daar geëindig nie. ‘…Die boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig’ (2 Korintiërs 5:19 NLV), en om ons verskille met mekaar op te los. Soms beteken dit dat jy jou woorde sluk, die versoener word, die inisiatief neem en die stryd beëindig. Is jy vandag gereed om dit te doen?

Sielskos: 1 Kor 4-6; Luk 24:25-35; Ps 43; Spr 10:10