Dis ‘n nuwe dag vir jou

2024-08-24
Jesaja 43:19 NLV

Moenie toelaat dat die pyn van jou verlede jou visie vertroebel en die seën wat God vir jou in die toekoms het, steel nie. God sê: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen…’ (verse 18-19 NLV). As jy al ooit deur ou verhoudings seergemaak is, het God nuwes wat vir jou wag. ‘Die Here het weer met Samuel gepraat: ‘Jy het nou lank genoeg oor Saul getreur vandat Ek besluit het dat hy nie langer koning van Israel moet wees nie. Maak ‘n horing vol olie en gaan na Betlehem toe. Daar moet jy ‘n man met die naam Isai soek. Ek het besluit dat een van sy seuns die nuwe koning sal wees’ (1 Samuel 16:1 NLV).

Dis gesond om oor jou verliese te rou. Wanneer jy egter in die verlede vasgevang is, is dit altyd ten koste van die toekoms. Daar kom ‘n tyd wat jy moet ophou praat oor dit wat nie verander kan word nie. God se oplossing vir pyn is doelgerigtheid. God se oplossing vir ou wonde is ‘n verbintenis om in liefde te wandel.

C.M. Parkes het gesê: ‘Om te rou is die prys wat ons vir liefde betaal.’Diegene vir wie ons die liefste is, kan ons die seerste maak. ‘Daarop kom vra Petrus Hom: ‘Here, hoeveel maal moet ek ‘n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?’ ‘Nee,’ verseker Jesus hom, ‘…tot sewentig maal sewe toe!’ (Matteus 18:21-22 NLV). Om jou vrede en vreugde terug te kry, moet jy vergewe en aanhou vergewe totdat die verlede sy houvas op jou verloor. Wanneer dit gebeur, is dit ‘n nuwe dag vir jou!

Sielskos: 2 Kro 19-21; Luk 16:19-31; Ps 119:113-120; Spr 22:1-3