Dis die goeie nuus

2019-02-12
Romeine 5:20 NLV

Bill Wilson en Bob Smith, die stigters van Alkoholiste Anoniem, het eendag ‘n prokureur wat ‘n geharde alkoholis was, besoek. Die man het geen keuse gehad as om na hulle verhale van herstel te luister nie, omdat hy as gevolg van sy gewelddadige gedrag tot sy bed beperk is. Toe hulle egter van ‘n ‘Hoër Mag’ begin praat, het die prokureur sy kop geskud en gesê: ‘Dis te laat vir my. Ek glo steeds in God, maar ek weet dat Hy nie meer in my glo nie.’ Hoe hartseer – en verkeerd – is dit nie! Is jy steeds bekommerd dat God jou as gevolg van jou sonde nie sal aanvaar nie? Jy hoef nie te wees nie! Paulus sê: ‘…hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword.’ Hy behoort te weet, want voor sy bekering op die Damaskuspad, was hy een van die ergste sondaars (sien 1 Timoteus 1:15). Na sy bekering het God hom gebruik om die evangelie aan die wêreld te verkondig (sien Handelinge 17:2). ‘Genade’ was so sentraal tot Paulus se boodskap, dat hy dit aan die begin van elkeen van sy briewe noem. Dis omdat hy besef het dat wanneer jy op jou eie meriete voor ‘n Heilige God probeer staan, jy dit elke keer sal opmors en soos ‘n mislukking sal voel – ongeliefd, onwaardig en onaanvaarbaar. Kan jy jou indink wat sal gebeur as jy jouself begin sien soos God jou sien? Die waarheid is dat jy sy verloste kind is en dat Hy jou deur die bloed van Jesus sien, wat al jou sondes reinig (sien 1 Johannes 1:9). Daar is niks wat jy kan doen sodat God jou meer of minder sal liefhê nie! Dis die goeie nuus!

Sielskos: Gen 30:25-31:55; Luk 9:37-45; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22