Dink versigtig voor jy praat
2023-09-14Spreuke 13:3 DB
Hier is ‘n Bybelvers wat ons almal in gedagte moet hou: ‘Hy wat sy mond kan hou, bly uit die moeilikheid uit. ‘n Kletskous praat maklik sy mond verby en beland in groot moeilikheid’ (vers 3 DB). Jou gewoonte om te praat voordat jy dink sal aanhou om jou in die moeilikheid te laat beland.
Daar is ‘n verhaal van ‘n stofsuierverkoper wat by ‘n afgeleë landelike gebied aangekom het. Hy het op sy eerste dag by die werk van plaashuis tot plaashuis gegaan en probeer om stofsuiers te verkoop. Toe hy by een plaashuis aankom, het hy aan die deur geklop. Die boervrou het die deur oopgemaak en hom gevra wat hy wil hê. Sonder om toestemming te vra, het hy reg verby haar deur die deur gedruk en gesê: ‘Ek verkoop stofsuiers.’ Geskok het sy geantwoord: ‘Wag ‘n bietjie!’ Maar hy het gesê: ‘Mevrou, voor jy iets sê, wil ek jou iets wys.’ Hy het ‘n houer grond uit sy sak uitgehaal en dit op die kombuisvloer uitgegooi. ‘As hierdie stofsuier nie al daardie grond kan opsuig nie,’ het hy gespog, ‘dan eet ek dit!’ Sy het na hom gekyk en gesê: ‘Dan moet jy maar begin, want ons het nie elektrisiteit nie!’
Hoe dikwels moet ons nie ons woorde wat ons so onverskillig op die vloer van die alledaagse lewe gooi, eet nie! Wees versigtig. Jesus het gesê dat ons eendag rekenskap vir elke onverskillige woord wat ons spreek, sal moet gee (sien Matteus 12:36). ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘Be careful of the words you say and keep them soft and sweet. You never know from day to day which ones you’ll have to eat.’ As jy dus nie jou woorde wil eet nie, moet jy versigtig dink voor jy praat.
Sielskos: Eseg 31-33; Mark 13:1-11; Ps 78:40-55; Spr 20:22-24