Dink minder aan jouself
2021-08-20Jakobus 4:10 NLV
Daar is ‘n ware gesegde wat lui: ‘Nederigheid is nie om minder van jouself te dink nie; dit is om minder aan jouself te dink.’ Dit beteken nie dat jy ‘n deurmat waaroor mense loop moet wees of dat jy ruggraatloos met geen oortuigings of opinies is nie. Ware nederigheid is om God as die bron van alles wat jy het en alles wat jy nodig het, te erken. Die Bybel sê: ‘Toe vorm die Here God ‘n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ‘n lewende wese, die mens, geword’ (Genesis 2:7 NLV).
God se bedoeling met die mensdom was dat hulle in die paradys sou bly en elke dag sy teenwoordigheid sou geniet het. Ons was egter ongehoorsaam aan Hom en het besluit om volgens ons eie reëls te lewe. Gevolglik het God gesê: ‘…jy is van stof gemaak en jy sal weer stof word’ (Genesis 3:19 NLV). Daar word gereken dat elkeen van ons minder as vyf dollars werd is. Wanneer jy dus doodgaan en jou komponente in stof verander, is dit hoeveel jy fisies werd is. Dit maak mens redelik nederig!
Wanneer jy dus jou luukse kar bestuur, onthou dat minder as vyf dollars dit bestuur. Minder as vyf dollars bly in ‘n mooi huis. Minder as vyf dollars dra ontwerpersklere. Paulus definieer nederigheid as volg: ‘…ek [sê] aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie, maar dat jy jouself nugter moet beoordeel…’ (Romeine 12:3 NLV).
Wil jy weet wat jou kosbaar maak? ‘…Christus leef in julle. Dit is die waarborg dat julle in die hemelse heerlikheid sal deel’ (Kolossense 1:27 NLV).
Sielskos: Gal 1-3; Luk 15:11-32; Ps 119:105-112; Spr 18:9