Dink meer aan ander (3)

2021-09-30
1 Korintiërs 10:33 NLV

Hier is ‘n groep waarvan jy nie deel wil wees nie: ‘…jy moet ook dít weet… dat daar gedurende die laaste dae moeilike tye sal kom. Want mense sal net hulleself en hulle geld liefhê… hulle sal plesier liewer hê as vir God’ (2 Timoteus 3:1-4 NLV).

Daar is niks fout daarmee om geld te maak nie. Inteendeel, as jy die Here eer, sal Hy jou help om meer daarvan te maak (sien Deuteronomium 8:18, Jesaja 48:17, Lukas 6:38, 2 Korintiërs 9:8). Daar is egter ‘n Bybelse beginsel waarvolgens jy moet lewe om in God se seën te deel. Wanneer jy genoeg geld het om aan jou eie behoeftes te voldoen, moet jy gewillig wees om ja vir God te sê wanneer Hy jou vra om aan iemand anders se behoefte te voldoen.

As jy graag selfsug wil oorwin en meer vrygewig wil word, is daar ‘n paar stappe wat jy kan neem: 1) Gee iets weg wat jy eerder sou wil hou. Die doel daarvan is om jou gehegtheid aan materiële dinge te verbreek.

2) Beoefen anonieme welwillendheid. Los ‘n kontantgeskenk vir ‘n bejaarde, ‘n student of ‘n enkelouer in ‘n koevertjie. Moenie jou naam daarop skryf nie en moenie enigiemand daarvan vertel nie. Nee, jy kan dit ook nie van belasting aftrek nie. God beloof egter om dit veelvoudig aan jou terug te besorg, in die areas waar jy dit die meeste nodig het (sien Galasiërs 6:7).

3) Laat iemand wat jy vertrou, jou vordering monitor. Ontmoet hulle dwarsdeur die jaar en nooi hulle uit om nie te vra hoeveel geld jy gemaak het nie, maar hoeveel jy aan ander mense weggegee het.

As jy ernstig daaroor is om selfsug te oorkom, is hierdie die stappe wat jy gewillig sal wees om te neem.

Sielskos: 1 Sam 16-17; Luk 24:1-12; Ps 68:1-18; Spr 22:1-5