Dink meer aan ander (2)

2021-09-29
Spreuke 19:17 NLV

Hier is vier maniere hoe jy goedhartigheid en vrygewigheid aan ander mense kan demonstreer.

1) Gee jou tyd. Deur ‘n paar ure van jou tyd aan iemand te gee, veral as jy ‘n besige persoon is, kan die wêreld vir iemand wat seer het, beteken.

2) Gee jou talent. Organisasies soos Habitat For Humanity en Dokters Sonder Grense gebruik die talente van begaafde mense om skuiling aan diegene in nood te verskaf en die lyding van mense te verlig. Dis Skriftuurlik! (sien Matteus 25:34-46).

3) Gee jou skatte. ‘Om na ‘n arm mens om te sien, is ‘n lening aan die Here. Hy sal jou daarvoor vergoed.’ Kan jy jou die rente wat God betaal, indink?

4) Gee jou geaardheid. Elkeen wat jy ontmoet, worstel met angs en veg oorloë waaroor hulle nie gewoonlik praat nie. Jou glimlag en woord van bemoediging kan dus vir hulle ‘n lewensboei wees wat hulle daardie dag help om kop bo water te hou.

Selfsug is so ingebore in elkeen van ons dat dit soos asemhaal is; ons doen dit sonder om daaraan te dink. Om dus te verander, moet ons ons prioriteite herrangskik, ons gedagtes herprogrammeer en besluit: ‘Ek sal nie hierdie dag laat verbygaan sonder om iets te doen of te sê wat iemand anders kan help, seën of bemoedig nie. God het vir Abraham gesê: ‘…Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tot ‘n seën sal wees’ (Genesis 12:2 NLV).

Bid vandag: ‘Vader, ek dank U vir elke hulpbron en voordeel wat U vir my gegee het. Help my asseblief om altyd te onthou dat daardie seëning van U af kom en dat ek hulle met ander, tot verheerliking van U, moet deel. In Jesus se naam bid ek dit, amen.’

Sielskos: 1 Sam 14-15; Luk 23:44-56; Ps 91; Spr 21:28-31