Die wese van leierskap
2024-07-27Josua 1:14 ABA
Om waardig te wees om gevolg te word, het jy meer as talent en ‘n titel nodig. Die wese van leierskap lê daarin om twee dinge te doen:
1) Eerste te gaan! ‘…maar almal van julle wat oorlog kan maak, moet voor die ander Israeliete oor die Jordaan-rivier gaan…’ Dit beteken dat wanneer God jou roep om te lei, jy in geloof moet uittree en eerste moet gaan. Dit verg dat jy in jouself en jou missie moet glo. God het vir Josua gesê: ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen’ (vers 9 NLV). Jy het nie al die antwoorde vooraf nodig nie. Jou selfvertroue spruit uit die wete dat God by jou – en voor jou – is.
2) Ander saam met jou neem. ‘…nadat julle hulle gehelp het om die land wat die Here julle God vir hulle gee, in te neem…’ (vers 15 DB). Baie mense wat ander help, doen dit net omdat hulle verplig word, of tydens ‘n krisis genoodsaak word. Wanneer jy egter ‘n dienskneg se hart het, inisieer jy die bediening en spoor mense aan om saam met jou te dien. Jy sien die nood raak, gryp die geleentheid aan en dien met die wete dat God jou sal beloon. Daarom dien jy met blydskap (sien Psalm 100:2).
Hier is dus die ooreenkoms: Jy kwalifiseer slegs om die voorregte van leierskap te geniet wanneer jy bereid is om eerste te gaan en ander saam met jou te neem. Dis egter nie die einde van die storie nie. God het gesê: ‘…. dan mag julle terugkom na julle eie grond wat… die Here, vir julle oos van die Jordaan-rivier gegee het’ (Josua 1:15 ABA).
Sielskos: 1 Tim 4-6; Luk 9:37-45; Ps 42:1-5; Spr 19:12-14