Die ware verhaal van Kersfees
2018-12-24Lukas 2:18 NLV
Om die verhaal van Kersfees ten volle te waardeer, moet jy na drie dinge kyk: 1) Wie God geroep het om die verhaal te vertel. Skaapwagters! In Palestina in die eerste eeu, is skaapwagters as die laagste in die samelewing gesien. Tog het God hulle gekies om die grootste verhaal te vertel – miskien omdat sommige van ons oor die verhaal sou debatteer of dit selfs ontken het. Nie hulle nie: ‘Toe het die skaapwagters vir almal gaan vertel wat gebeur het…’ (vers 17 NLV). Jy hoef nie ‘n kundige te wees nie. Vertel net vir die mense wat jy gesien en gehoor het en die verandering wat Jesus in jou lewe gemaak het. 2) Die reaksies van diegene wat die verhaal gehoor het. ‘Almal wat die skaapwagters se verhaal gehoor het, was verbaas.’ Die genade van God is wonderbaarlik: ‘Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie. Die boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig’ (2 Korintiërs 5:19 NLV). Jou sondeskuld is gekanselleer; jou boeke is gebalanseer en nou kan jy ‘n persoonlike verhouding met God hê deur jou vertroue in Christus te plaas. 3) Maria se deel in die verhaal. ‘…maar Maria het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink’ (Lukas 2:19 NLV). Sy wou verstaan wat God gedoen het en hoe dit op haar van toepassing was. Jy moet dit ook doen. God verander nie, maar Hy beweeg en jy moet in pas met Hom bly. Daar is baie dinge wat Maria nie van God se wil verstaan het nie, maar sy het dit aanvaar en gehoorsaam. Dit is ook wat God van jou vra.
Sielskos: Job 21-23; Luk 1:67-80; Ps 128; Pred:5-9