Die versekering van verlossing
2021-03-25Johannes 10:28 NLV
Jou verlossing word nie deur jou optrede gewaarborg nie – maar deur Christus se optrede aan die kruis. Solank as wat jy jou vertroue in Christus plaas, is jy gered en sal jy hemel toe gaan.
Jesus het gesê: ‘Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan. Niemand sal hulle uit my hand steel nie.’ Wat meer is, God kies ons om die ewige lewe saam met Hom deur te bring. ‘…Hy het boonop sy amptelike stempel op ons lewe geplaas as die bewys dat ons aan Hom behoort… God het die Heilige Gees aan ons almal gegee as die deposito… om ons te verseker dat sy nuwe wêreld op ons wag’ (2 Korintiërs 1:21-22 DB).
Jy het al iets soortgelyks gedoen: jou naam op ‘n ring of op ‘n stuk gereedskap of ‘n iPad gegraveer. Om iets te stempel beteken dat jy eienaarskap daarvan verklaar. God stempel ons deur sy Gees. Satan word daardeur teruggedryf: ‘Hou jou hande tuis. Hierdie verloste kind is myne!’
Waar daar geen versekering van verlossing is nie, is daar geen vrede nie. Geen vrede beteken geen vreugde nie. Geen vreugde veroorsaak lewens wat op vrees gebaseer is. Genade skep ‘n siel wat met vertroue kan verklaar: ‘…ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag van sy koms’ (2 Timoteus 1:12 NLV).
Jou kaartjie hemel toe is veilig: ‘Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God’ (1 Johannes 5:13 NLV). Dit gaan nie oor jou houvas op God nie – maar oor sy houvas op jou!
Sielskos: Job 38-39; Matt 25:22-30; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26