Die verhaal van Cyprianus
2022-01-19Esegiël 36:26 NLV
Cyprianus, ‘n welgestelde edelman wat tydens die Derde Eeu geleef het, het dit geniet om in die antieke stad van Carthago met sy versierde wa rond te galop. Hy het ontwerpersklere, wat met diamante en edelestene versier was gedra en ‘n losbandige lewe gelei. In ‘n brief aan een van die Christelike teoloë van sy tyd, het Cyprianus gesê dat hy hom nie kon indink hoe hy sy lewe kon verander nie – die lewe wat hy al so lank gelei het. Die ingeburgerde gewoontes, smake en begeertes wat hy ontwikkel het, die sondes wat hy aan sy boesem vasgehou het, hoe sou hy ooit hierdie dinge kon prysgee? Hoe sou hy ooit soos die Christene wat hy teëgekom het kon word? Hy het gesê dat dit vir hom soos ‘n gans en al onmoontlike verandering lyk.
Maar, in die geheimsinnige voorsienigheid en genade van God, het dit wat heeltemal onmoontlik gelyk het, plaasgevind en Cyprianus het verander. God het afwaarts gereik en die kliphart uit Cyprianus se bors geneem en dit met ‘n hart van vlees vervang – ‘n hart wat daarop ingestel was om vir God lief te wees en Hom te loof. Cyprianus, wat later een van die grootste Christelike leiers van die vroeë kerk geword het, het gesê dat dinge wat heeltemal onmoontlik, geheimsinnig en moeilik verstaanbaar gelyk het, eenvoudig geword het. Al sy probleme het verdwyn.
Jy sê: ‘Maar ek verstaan nie die wedergeboorte nie.’ Die goeie nuus is dat jy dit nie hoef te verstaan nie. Jy moet Christus net vertrou en nuut gebore word. Alle tipes mense – die groot en magtige, die edele en die onedele, die woeste en die gesofistikeerde – het al die vernuwende krag van God ervaar en ‘n nuwe lewe in Christus geniet. Jy kan ook.
Sielskos: Gen 40-41; Luk 4:1-13; Ps 89:1-14; Spr 2:20