Die unieke opstanding van Jesus (2)

2019-04-21
Johannes 11:25 NLV

Hoekom is Christus se opstanding uniek? 1) Hy is die enigste een wat nie weer gesterf het nie. Al die ander wat in die Skrif uit die dood opgestaan het, het weer gesterf. Jesus was die wonderlike uitsondering. Uiteindelik het Hy ‘…’n priester geword omdat Hy nie kon sterf nie’ (Hebreërs 7:16 ABA). Sy getuienis staan sterk: ‘…Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd…’ (Openbaring 1:18 NVL) 2) Hy het opgevaar na die hemel om ons voor God te verteenwoordig. Jesus is ‘…priester vir ewig…’ (Hebreërs 7:17 NLV). Hy sit egter nie net en wag op sy wederkoms nie, Hy verteenwoordig ons voor God. ‘Christus het immers tot in die hemel self ingegaan om nou as ons voorspraak voor God te verskyn…’ (Hebreërs 9:24 NLV). Dit beteken dat geen beskuldiging teen ons staande kan bly nie. ‘Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het… wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit’ (Romeine 8:34 NLV). 3) Hy het die mag om jou weer lewendig te maak wanneer jy sterf. Jesus het sy dissipels met hierdie wonderbaarlike belofte getroos: ‘Nog net ‘n klein tydjie en die wêreld sien My nie meer nie, maar julle sien My nog omdat Ek lewe en julle sal lewe’ (Johannes 14:19 NLV). Hierdie belofte is ook op jou van toepassing! ‘Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan… Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees’ (1 Tessalonisense 4:16-17 NLV). Wat ‘n wonderlike dag sal dit nie wees nie!

Sielskos: 1 Kor 15; Luk 24:1-53