Die unieke opstanding van Jesus (1)

2019-04-20
Openbaring 1:18 NLV

Die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het is nie wat Hom uniek maak nie. Die Bybel teken sewe ander opstandings aan. Jesus was nommer agt (die Bybelse nommer vir nuwe begin). In twee wonderbaarlike maniere was sy opstanding egter soos geen ander nie. 1) Sy opstanding was die enigste een wat vooraf voorspel is. Dawid het oor Jesus geprofeteer: ‘Want aan die doderyk sal U my nie prysgee, of toelaat dat u getroues in die graf ontbind nie’ (Psalm 16:10 NLV). Jesaja het vir Hom ‘n lewe na sy kruisiging voorspel ‘…Al het die Here sy lewe ‘n skuldoffer gemaak, sal hy ‘n groot nageslag kry en nog lank lewe…’ (Jesaja 53:10 NLV). Jesus het sy eie opstanding uit die dood voorspel. ‘Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels begin duidelik maak dat God wil hê Hy moet na Jerusalem gaan… en doodgemaak word, maar God sal Hom op die derde dag weer lewendig maak’ (Matteus 16:21 NLV). 2) Jesus was ten volle in beheer van sy opstanding! Sy vyande het Hom as ‘n hulpelose slagoffer van hul vasbeslote pogings om Hom en sy missie uit te wis, gesien. Hulle was egter heeltemal verkeerd! Hy het gesê: ‘Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit My eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem…’ (Johannes 10:18 NLV). Al Rome se mag en die haat van sy Joodse vervolgers kon Jesus of sy saak nie tot niet maak nie. In sy dood en in sy opstanding, was Hy altyd in beheer. ‘…Sloop hierdie tempel [my liggaam] en in drie dae sal Ek dit weer oprig’ (Johannes 2:19 NLV). Hy het dit gedoen! Hy lewe vir ewig!

Sielskos: Num 1-2; Luk 23:50-56; Ps 144:1-8; Spr 10:19-21