Die twee reëls
2023-09-12Genesis 2:16 NLV
Adam het die perfekte werk, huis, huwelik en omgewing gehad; al die dinge wat ons nastreef. Hoe het hy dit reggekry? Deur sy verhouding met God! God het hom basies twee reëls gegee om volgens te lewe: ‘…Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet, behalwe van die boom van alle kennis. As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf’ (verse 16-17 NLV). Die twee reëls is dus:
1) By God is dit wat jy terugkry altyd groter as wat jy prysgee. ‘…Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet’. Wat ons egter so dikwels doen – en wat wettiese godsdiens doen – is om na daardie en soortgelyke Skrifgedeeltes te kyk en te fokus op dit wat ons nie mag doen nie. Die waarheid is dat wanneer ons lys ‘moenies’ ons lys van wat ons vry is om te doen oorskry, het ons veel verder gegaan as wat die Skrif bedoel het. Die Christelike lewe moet aan wat jy vry is om te geniet, nie aan wat jy verbied word nie, gemeet word.
2) Wanneer jy volgens God se Woord in plaas van jou eie begeertes lewe, word jy geseën. ‘Ag, as hulle maar altyd sulke harte sal hê dat hulle My sal vrees en al my gebooie sal gehoorsaam! As hulle dit doen, sal hulle en hulle nageslag vir altyd voorspoedig wees’ (Deuteronomium 5:29 NLV). Die enigste ding wat God ons verbied, is die reg om self te bepaal wat ‘goed of kwaad’ is, want Hy weet ons is nie bevoeg om dit te doen nie. Ons moet volgens goddelike openbaring, eerder as menslike geneigdheid lewe. God het in sy liefde en wysheid hierdie beperking in plek gestel om ons te beskerm en te seën.
Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Mark 12:13-27; Ps 78:17-31; Spr 20:15-19