Die transformerende waarheid van Golgota (2)
2019-04-171 Petrus 2:24 NLV
Tweedens was Golgota plaasvervangend. As mens na die kruis deur die lens van sentimentaliteit of bygeloof kyk, mag dit dalk jou emosies affekteer, maar dit kan nie jou siel red nie. As dit egter as plaasvervangend gesien word, kan die kruis enige siel red! Die apostel Petrus skryf: ‘Hy het self ons sondes in sy liggaam weggedra kruis toe. Só is ons vry van die sonde. Nou kan ons lewe omdat God ons verhouding met Hom herstel het. Deur sý verwonding is julle genees!’ As Jesus die kruis geweier het, sou God ons vir ons sondes tot die dood toe moes veroordeel. In plaas daarvan, as ons plaasvervanger, het Jesus ons verdiende straf op Homself geneem om ons vry te maak en vir ons die ewige lewe te gee. Plaasvervanging was histories God se idee om sy mense van die straf van hulle sondes te red. Toe Adam en Eva gesondig het, het God ‘n dier as plaasvervanger gebruik om hulle ongeregtigheid te bedek. Hy het Abel se offer van die ‘…eerstelinge van die seisoen…’ (Genesis 4:4 NLV), en Abraham se ram wat in ‘n bos vasgesit het in ruil vir Isak se lewe aanvaar (sien Genesis 22:13 NLV). Dit is vir eens en vir altyd sonder twyfel gedemonstreer toe Jesus Homself op Golgota opgeoffer het. God was ten volle tevrede met Christus se versoenende dood en het ons rekords geskrap en ons as onskuldig in sy aangesig verklaar! ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Alles wat Jesus gedoen het, van sy maagdelike geboorte, sondelose lewe, versoenende dood, wonderbaarlike opstanding, glorieryke opvaring en priesterlike bediening in die Hemel, het Hy as plaasvervanger en redder gedoen.
Sielskos: Jak 1-2; Luk 23:1-12; Ps 7:1-9; Spr 10:16