Die seëninge van die stryd
2024-08-161 Timoteus 6:12 NLV
Wanneer jy jou lewe aan Christus toevertrou, verander jou lojaliteite. Nou moet jy teen drie dinge opstaan. Die wêreld met sy druk, waardes en agenda. Die vlees, met sy impulse en swakhede. Die duiwel, wat daarop uit is om jou te oorwin. God sal egter nooit toelaat dat ons ‘n geveg betree wat ons nie kan wen nie, kom ons kyk dus na die drie seëninge van die stryd.
1) Dit leer jou om altyd gereed te wees. Dit was toe Simson geslaap het wat Delila sy hare gesny en hom van sy krag beroof het. Dit was toe die slawe geslaap het wat die vyand onkruid tussen hulle koring gesaai en hul oes bedreig het.
2) Dis ‘n teken van geestelike vooruitgang. Toe Israel die Beloofde Land binnegegaan het, moes hulle een-en-dertig konings, sewe nasies en selfs reuse verower! Hulle moes dit een stad en een reus op ‘n slag doen. Wanneer Jesus die Here van jou lewe word, sal Hy die areas waarin jy nog nie volkome oorgegee het nie aanspreek en hulle een op ‘n slag hanteer. Die stryd sal moeiliker wees en langer aanhou wanneer dit by jou hardkoppige areas kom. Jy weet watter areas dit is, nè? Skep moed. God sal nie op jou opgee nie: ‘…God [sal] die goeie werk wat Hy in julle begin het… voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV).
3) Dis ‘n aanduiding van jou waarde vir God. Jy is ‘n saadjie wat in staat is om ‘n oes vir God te produseer. Dis hoekom Satan jou teiken. Hy is agter die deposito van God wat binne-in jou is, aan. Hou dus aan om die goeie stryd van geloof te veg, met die wete dat jy deur God se genade sal wen.
Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Luk 13:18-35; Ps 119:57-64; Spr 21:7-9